Navajo | |
---|---|
Portrette van bekende Navajo-persoonlikhede | |
Totale bevolking: | 300 460[1] |
Belangrike bevolkings in: | Verenigde State (Arizona, Colorado, Nieu-Meksiko, Utah) |
Taal: | Navajo en Engels |
Geloofsoortuiging: | Tradisionele Navajogodsdiens, Christendom (hoofsaaklik Rooms-Katolieke Kerk), Mormonisme, Inheemse Amerikaanse Kerk |
Verwante etniese groepe: | Indiane |
Die Navajo of Navaho (Navajo: Diné of Naabeehó) is 'n inheemse etniese groep wat in die hedendaagse Amerikaanse deelstate Arizona, Colorado, Nieu-Meksiko en Utah woon. Hulle vorm die tweede grootste groep Indiane ná die Cherokee en bly in hul Navajonasie in die suidweste van die Verenigde State net noord van die grens tot Meksiko.
Sowat die helfte van die Navajo bly in die Navajonasie wat oor die deelstate Arizona, Colorado, Nieu-Meksiko en Utah streek. Dit vorm sowel volgens oppervlak as bevolking die grootste van die Verenigde State se Indianereservate. Die Navajonasie sluit die bekende Four Corners in, dié punt waar die vier genoemde Amerikaanse deelstate op één punt ontmoet.
Die Navajo praat veral Navajo as moedertaal. Dit behoort saam met Tlingit en ander kleiner tale tot die Na-Dené-tale, een van die primêre taalfamilies van die wêreld. Die meeste Navajo gebruik Engels as tweede taal.
Die deelstate met die grootste Navajobevolkings is Arizona (140 263) en Nieu-Meksiko (108 306). Meer as driekwart van die Navajobevolking bly in dié twee deelstate.[2]